Kernbiografieë

 

 

Herman le Roux

                                          

Herman le Roux het in 1996 afgetree as sport- en assistent-redakteur van Beeld in Johannesburg - ná ʼn dienstermyn van meer as veertig jaar by Nasionale Pers.

Hy was byna 32 jaar lank in diens van Die Volksblad in Bloemfontein voordat hy in 1987 na Beeld verplaas is - 21 jaar as sportredakteur en in die ses jaar voor sy verplasing na Beeld as assistent-redakteur.

Ná sy aftrede in 1996 het die direksie van Nasionale Pers hom met die Phil Weber-prys vereer. Dié prys is die maatskappy se hoogste eerbewys vir volgehoue prestasie.

Herman, wat op 5 Maart 1935 op Frankfort in die Vrystaat gebore is, het van kleinsaf gesê hy wil eendag niks anders as ʼn sportskrywer wees nie. In sy matriekjaar (1952) het hy ʼn korrespondensie-kursus in joernalistiek met spesiale onderskeiding voltooi.

Nadat hy die graad BA aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het hy op 1 Januarie 1956 as verslaggewer by Die Volksblad begin werk.

In 1959 was hy saam met Arrie Joubert Randse verteenwoordiger van Nasionale Pers in Johannesburg. In dieselfde jaar is hy op 24-jarige ouderdom tot sportredakteur van Die Volksblad bevorder in die plek van Roelf Theunissen wat na die Rand verhuis het.

Herman het as rugbyskrywer sewe internasionale toere meegemaak en 84 toetse gesien. Sy toere was: in 1962 saam met Arthur Smith se Leeus in Suid-Afrika, in 1965 saam met Dawie de Villiers se Springbokke in Australië en Nieu-Seeland, in 1970 saam met Brian Lochore se All Blacks in Suid-Afrika, in 1974 saam met Willie-John McBride se Leeus in Suid-Afrika, in 1976 saam met Andy Leslie se All Blacks in Suid-Afrika, in 1980 saam met Bill Beaumont se Leeus in Suid-Afrika en in 1981 saam met Wynand Claassen se Springbokke in Nieu-Seeland en Amerika.

Voor die All Black-toere van 1970 en 1976 het Herman die proewe in Nieu-Seeland bygewoon.

Hy was in 1962 ʼn stigterslid van die SA Vereniging van Rugbyskrywers en ook van die Vrystaatse Vereniging van Sportskrywers (1958). Hy was agt jaar lank voorsitter van laasgenoemde vereniging in 1993 ook voorsitter van die Randse Sportskrywersvereniging.

As sportskrywer het hy ook verslag van nasionale atletiekbyeenkomste,  tennistoernooie, krieketwedstryde en swemgalas gedoen en ʼn kwarteeu lank SA mans- en vroue-gholftoernooie bygewoon.

In 1969 het hy op versoek van die SA Gholfunie gehelp met die vertaling van die gholfreëls in Afrikaans.

Hy is die samestelller en mede-skrywer van die boeke, Spitse op die Sportveld (Tafelberg-uitgewers 1970) en Meelbomme en Shosholoza (Makro Boeke 1996). Hy en Frikkie van Rensburg, huidige sportredakteur van Volksblad, is mede-skrywers van die eeufeesboek, Vrystaaat! 100 jaar van hardlooprugby, wat in 1995 deur Dreyer Drukkers uitgegee is. In 1998 is sy boek Sportpourri deur J.L. van Schaik (Pretoria) uitgegee.

Twee jaar later het hy Gysie, die biografie van die voormalige Springbok-heelagter van die Vrystaat, Gysie Pienaar, geskryf.

Nadat Herman vier jaar ná mekaar ʼn finalis was, is hy in 1981 as SA Brouery se Sportskrywer van die Jaar aangewys. Sy naam verskyn ook op SAB se Ere-rol van Sportskrywers.

Hy was tot 2003 ʼn bestuurslid van die Johannesburgse Persklub.

Herman is in 1959 getroud met Rina (gebore Kleynhans). Hulle het vyf kinders: Francois (getroud met Ronél Swart), Michelle (getroud met Frans Marais), Sonja (getroud met Sarel Meissner-Roloff), Herman (getroud met René Neizel) en Jeanne (getroud met Mike Rosenberg), en agt kleinkinders: Herman, Louis, Anton, Konrad, Lara, Alex, Jenna en Kate. 

 

 

 
 
   
 
 

Tuis Kontak ons

 

Loading, please wait...

busy_indicator