Boeke oor mediamense

Getuie van groot tye

Schalk Pienaar

Tafelberg, Kaapstad

1979

ISBN 0-624-01265-4

Schalk Pienaar was reeds ernstig siek toe hy hierdie "intieme kyk op ons politieke geskiedenis" geskryf het. Hy is oorlede enkele dae nadat hy die laaste paragrawe gedikteer het. Dit is geen outobiografie nie, wat dalk goed is. J.C. Steyn se latere biografie oor Pienaar vul die meer formele "gapings".

Hier is Pienaar aan die woord - reguit en eerlik soos van hom verwag kon word. Dit is ʼn eerstehandse weergawe van die woelinge in die politiek en pers soos beleef deur een van die beroemdste Afrikaanse koerantredakteurs ooit.

Die boek is geskryf in die styl wat Pienaar by Die Beeld ingevoer het: kort en kragtig. Die paragrawe is kort, die stories interessant en die hoofstukke draal nie.

ʼn Kerntema is die stryd om ʼn onafhanklike Afrikaanse pers, een wat dus vry is van beperkinge wat die Nasionale Party wou stel. ʼn Ander is die vestiging van Die Beeld en later Beeld, beide onder Pienaar se redakteurskap.

Kyk ons vandag terug op die oorwinning wat Nasionale Pers se koerante uiteindelik behaal het en die magtige mediaryk wat op die fondamente gebou is wat deur koerantmanne soos Pienaar gelê is, is die trane wat hy letterlik gestort het selfs meer aangrypend. Die geleentheid om die oorwinning met Die Beeld te behaal, is hom destyds deur finansiële realiteite ontneem. En sy gesondheid het hom weggeneem van Beeld se loopgrawe. Uiteindelik die dood gouer gekom as Beeld se sege.


 

Voorloper. Die lewe van Schalk Pienaar

Alex Mouton

Kaapstad: Tafelberg

2002

ISBN 0-624-03942-0

Soos Piet Cillié, sy lewenslange vriend, se naam altyd aan Die Burger gekoppel sal word, is Schalk Pienaar se naam onherroeplik verbind tot ʼn waagmoediger stuk persgeskiedenis: die stigting van die Sondagblad Die Beeld en die dagblad Beeld in die noorde. Die uiteindelike sukses van hierdie uitbreiding deur Nasionale Pers in die noorde is aan vele faktore en die insette van verskeie mense te danke.

Maar Pienaar was die vader van Die Beeld en Beeld - en die andersoortige joernalistiek waarmee die koerante hul opponente die stryd aangese het. In hierdie werk deur Alex Mouton word Pienaar se verhaal vertel - een wat gestrek het van sy opruiende hoofberigte in Die Burger tydens die simboliese ossewatrek van 1938 tot met sy afsterwe in 1978.

Pienaar het as redakteur vernuwing in die regeringsbeleid bepleit, konserwatiewes genadeloos aan die kaak gestel en daardeur die grense van die Afrikaanse joernalistiek verskuif. Sy populistiese, soms sensasionele nuussin het meegebring dat hy as "pornograaf, ateïs, verraaier, kommunis en dronklap" uitgekryt is. Hy was dus nie altyd gewild nie, om dit maar sag te stel, maar vir diegene wat onder hom gewerk het, was hy ʼn charismatiese leier.

Mouton se biografie bied, saam met Pienaar se outobiografiese Getuie van groot tye en Heloise Davis se M-tesis ʼn wonderlike insig in ʼn fassinerende joernalis en sy werk.

 
 
   
 

Kernbiografieë

 

Tuis Kontak ons

 

Loading, please wait...

busy_indicator