Welkom

Goeiedag

Ek het onlangs vanuit my akademiese pos na die kantoor van die vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit geskuif. Maar Mediamense.co.za gaan voort. Ek verwelkom steeds bydrae by my ou eposadres, jd.froneman@nwu.ac.za. Intussen het ons laasweek ʼn paar nuwe stukke geplaas.

Die nuwe By nabaat-inskrywigs sluit in wyle Andries Botha se oorspronklike bydraes oor Marius Jooste en Hennie van Deventer se stuk oor Niel Barnard en dié oudspioenbaas se verhouding met die media. Uit ou koerante het ons ʼn artikel deur Franz Kemp opgediep oor sy wedervaringe in Zambië as verslaggewer van Die Beeld. Tom Ferreira se stuk van jare gelede oor Jan Scholtz (wat onlangs oorlede is) is aan ons gestuur en is ook met graagte geplaas.

Ek twiet nou en dan iets aktueels op die Faceboekbladsy Mediamense Ekstra. Kyk gerus.

Johannes Froneman

Uitgewer-redakteur

14 September 2015

 ;

Goeiedag

Vandag plaas ons vyf nuwe stukke. Drie daarvan is gegrond op stukke wat reeds verskyn het, naamlik kort uittreksels uit artikels deur Zelda Jongbloed (oor Izak de Villiers) en Hanlie Retief (oor Jean Oosthuizen en Paul Eilers). Die vierde is ʼn herdruk van Gus Cluver se 1993-artikel oor sy beginjare as misdaadverslaggewer by Die Transvaler, en die vyfde stuk is ʼn nuwe stukkie Africana deur ons staatmaker-medewerker Hennie van Deventer. Dit handel oor Die Volksblad (ja, toe nog met die Die) se hantering van die nuus oor die sluipmoorde op John F. Kennedy en dr. H.F. Verwoerd. Hierdie stukke is almal in die afdeling By Nabaat te vinde.

Ons verwelkom steeds u kommentaar en (veral) enige bydrae.

Johannes Froneman

Uitgewer-redakteur

20 Julie 2015

Wie ons is

Mediamense.co.za is ʼn weblad volledig toegewy aan Afrikaanse joernaliste en hul werk. Ons fokus op joernaliste van gister en vandag. Op drukmediajoernaliste, uitsaaijoernaliste en internetjoernaliste.

Uitgewer en redakteur

Prof Johannes Froneman

Noordwes-Universiteit

Interne studentemedewerkers

Ernalize Groenewald

Tersia Landsberg

Chantell Vorster

Die uitgewer-redakteur is voltyds verbonde aan die Noordwes-Universiteit. Interne studentemedewerkers is studente aan dieselfde universiteit. Die inhoud van die webwerf is egter die verantwoordelikheid van die uitgewer-redakteur en is op geen ander manier aan die NWU gekoppel nie.

Ons doel:

Mediamense.co.za word uitgegee om kennis en begrip van Afrikaanse joernaliste van die hede en verlede te bevorder.

Ons gee daarom ook aandag aan die konteks waarbinne Afrikaanse joernaliste sedert 1875 (en selfs vroeër) gewerk het. Ons skryf oor die koerante, tydskrifte, radiostasies en maatskappye waar Afrikaanse joernaliste werk of gewerk het. Maar ons fokus bly die mense.

Mediamense.co.za is inklusief. Ons sluit alle Afrikaanse joernaliste in, maar konsentreer op hulle wat vir Afrikaanse publikasies en uitsaaimedia werk en gewerk het.

Hierdie webwerf se doel is om bloot as wegspringpunt te dien. Daarom gee ons allerlei skakels en verwysings om die belangstellende in staat te stel om self verder te lees. En ons moedig lesers aan om ons te korrigeer en aanvullende bydraes te skryf.

Uitnodiging

Die redaksie probeer ʼn groeiende basis skep waarop medewerkers kan voortbou. As jy oor inligting beskik wat hierdie webwerf kan verryk, is jy baie welkom om dit aan ons te stuur.

Ons stel veral belang in afgetrede joernaliste (waarby ons omroepers insluit) se herinneringe. Natuurlik moet ons dit beperk tot bepaalde gebeure, insidente of temas wat lig sal werp op Afrikaanse joernaliste en hul werk.

Die basiese publikasiereëls is:

1.Die redaksie behou die reg voor om bydraes te keur. Indien wensenlike veranderings of verkortings aangebring moet word, sal dit eers aan die medewerker voorgelê word vir instemming.

2.Die medewerker behou kopiereg op enige stuk en kan dit te enige tyd onttrek.

3.Omdat mediamense.co.za ʼn nie-winsgedrewe webwerf is wat sonder die direkte finansiële ondersteuning van enige buite-instansie gepubliseer word, kan geen vergoeding aan medewerkers betaal word nie.

Tegniese vereistes:

Medewerkers moet hul skryfsels asb. tot sowat 1 500 woorde beperk. Meerdere bydrae kan wel van een medewerker geplaas word. Stuur dit in gewone Word-formaat.

Registrasie

Ons wil jou graag gereeld inlig oor nuwe artikels en inligting op mediamense.co.za. Kliek asb. op geel skakel en vul die vorm in. Ons belowe nie meer as een epos per maand nie. En jy kan te enige tyd deregistreer. Geen ander instansie sal hoegenaamd insae kry in jou eposadres of gegewens nie.

 
 
 
   
 

Kernbiografieë

... van redakteurs en toonaangewende joernaliste.

Boeke oor mediamense

In hierdie afdeling word gefokus op biografiese en outobiografiese werke oor en deur mediamense.

Bibliografie

Talle databasisse gee via allerlei  invalshoeke toegang tot boeke oor Afrikaanse joernaliste. Hier word die outeurs, titels  en besonderhede onder een sambreel saamgebring.

Profiele

Ons skryf hier oor bekende en minder bekende mense uit die Afrikaanse mediawereld.

By nabaat

Waar mediamense skryf oor hul ervarings.

Onderhoude

Lees hier onderhoude met mediamense uit die drukmedia en uitsaaiwese.

Media-instellings

Kort profiele oor Afrikaanse media-instellings.

Verbatim

Aanhalings uit geskrifte deur en oor mediamense.

Voorblaaie

Koerante en tydskrifte se voorkoms het deur die jare merkbaar verander. Hier gee ons ʼn kykie op enkele publikasies.

Groot nuus

Hier is van die koerantvoorblaaie wat die groot nuusgebeure van die afgelope eeu weergee.

 

Lees ook

 

Tuis Kontak ons

 

Loading, please wait...

busy_indicator